Dit is weer tyd vir die jaarlikse kleuterproduksie aangebied deur die NWU Skool vir Musiek se tweedejaar Musiekopvoedingstudente. Hierdie jaar se vertoning is getiteld Twee Musiekte en dit is ʼn didaktiese sprokie, oorwegend in Afrikaans, wat kinders bekendstel aan die musiekkonsepte artikulasie en tempo.

Die fantasieverhaal speel af op die oewer van die Mooirivier en vertel van twee musikale muskietlarwes, Zoei en Ziist (vandaar die woord musiekte), se avonture en die verrassings wat die kolkstrome vir hulle en die ander rivierdiertjies inhou. Kleuters maak onder meer kennis met KATVIS, twee spelerige waterhondjies en ʼn waternimf met die soetste stem. Aspekte wat speel-speel aangespreek word, is vriendskap, liefde, en respek vir besittings deur ons speelgoed op te pas.

Twee Musiete

Die uitvoering sal voorafgegaan word deur ʼn kort opvoedkundige demonstrasie van die musiekinstrumente wat in die produksie gebruik word.

Vertonings vind plaas in die Konservatoriumsaal op Donderdag 19 Mei 2016 om 09:00 en 10:00 en Vrydag 20 Mei 2016 om 09:30. Kleuterskole, créches, speelgroepies en alle voorskoolse kleuters in die stad word uitgenooi om hierdie opwindende vertoning by te woon. Kaartjies teen R15 elk is beskikbaar by die Konservatorium in Thabo Mbeki-weg, tel. 018-299-1692.

Twee Musiekte